SHOWING ARTICLE 85 OF 169

VEILIGHEIDSLANDGOED: IS DIE REËLS AFDWINGBAAR?

Category LawDotNews

VEILIGHEIDSLANDGOED: IS DIE REËLS AFDWINGBAAR? 
(Author: DotNews, republished with permission) 
“It is well established that contractual provisions are against public policy ‘… if there is a probability that unconscionable, immoral or illegal conduct will result from the implementation of the provisions according to the tenor’” (aldus die uitspraak wat hieronder bespreek word). 
Wanneer jy eiendom in ‘n veiligheidslandgoed of enige ander vorm van ‘n gemeenskapskema koop, gaan jy ingevolge die eiendomsvoorwaardes, ’n lid van die betrokke huiseienaarsvereniging of regspersoon van die skema moet word. Jy sal ook aan die betrokke reëls en regulasies moet voldoen. 
Nie alle reëls kan deur die skema afgedwing word nie. Eiendomsagente kan gerus kyk na die onlangse uitspraak waarin bevind is dat die afdwinging van spoedbeperkings en die inperking van die beweging van huishoudelike werknemers ondersoek is. Die Hooggeregshof bevind dat dit nie die skema se plek is om dit te doen nie.
Maak seker dat jy weet wat die reëls behels voordat jy in die skema koop. Ons howe sal oor die algemeen sulke kontraktueel ooreengekome reëls afdwing. 
Die Hooggeregshof het onlangs weer bevestig dat die omvang van die reëls darem nie onbeperk is nie.  
Spoedbeperkings ....  en ook beperkte toegangs- en vertrektye vir huishoudelike werknemers
‘n Groot gholflandgoed spog met honderde vrystaande eie titel huise en ook deeltiteleenhede, asook uitgebreide gemeenskaplike gebiede insluitende paaie, sypaadjies en tuine. Die volgende twee stelle reëls staan uit en word deur die hof onder oorweging geneem -
o Die spoedbeperking van 40 kilometer per uur op die landgoed se paaie, en 
o Die beperking wat op huishoudelike werknemers se toegang tot die landgoed geplaas word. Die landgoed se reëls bepaal dat  huishoudelike werknemers vanaf 6 uur in die middag tot die volgende oggend om 6 uur nie in die landgoed mag inkom nie. Hul vrye gebruik en beweging op die landgoed se paaie word ook ingeperk en hul toegangskaarte moet jaarliks hernu word. 
Een van die eienaars het met die landgoed swaarde gekruis oor die toepassing van hierdie reëls. Hier het onbetaalde spoedkaartjies daartoe gelei dat die eienaar en sy gesin se toegangskaarte geblokkeer is. Hulle het dus nie meer vrye toegang tot die landgoed gehad nie en natuurlik dan ook nie meer vrye toegang tot hul eie huis gehad nie. 
Die hof bevind dat beide stelle reëls onwettig en ongeldig is. Die hof bepaal dan dat die reëls binne ‘n periode van 12 maande aangepas moet word. 
Die eerste stel reëls: Spoedbeperkings en snelstrikke 
Die hof gee toe dat die paaie wel binne die grense van die landgoed aangetref word. Die paaie bly egter openbare paaie ingevolge die Padverkeerswetgewing. Die landgoed is dus nie by magte om op hul eie spoedbeperkings vas te stel of te reguleer nie. Die aangewese provinsiale minister van verkeersake of munisipale eweknie moet die nodige magtiging hiervoor verleen. 
Die hof het die landgoed twaalf maande grasie gegee om die nodige toestemming van die owerhede te verkry. In die aansoek sal die landgoed die noodsaak en verpligting om kinders, voetgangers, inwoners, ander padgebruikers en die wildslewe op die landgoed te beskerm voorhou en dit sal waarskynlik toegestaan word. 
Die tweede stel reëls: Beperkings wat op huishoudelike werknemers van toepassing is 
Die hof was duidelik daaroor dat hierdie inperkings indruis teen die bepalings van die Grondwet. Die werknemers se grondwetlike regte is geskend insluitende hul basiese regte van gelykheid, vryheid van assosiasie, vryheid van beweging, vryheid van indiensneming en billike arbeidspraktyke. 
Die hof maak die opmerking dat hul posisies sterk herinner aan die van werknemers tydens die apartheidsjare. Werknemers is goed genoeg om huishoudelike take op die landgoed vir hul werkgewers te verrig. Hulle mag net vrylik rondbeweeg wanneer hulle byvoorbeeld huishoudelike take vir hul werkgewers verrig soos om babas en klein kinders in babawaentjies rond te stoot. Andersinds word hul vryheid van beweging drasties ingeperk, in stryd met regte wat in publieke reg en in die Grondwet verskans is. 
Die hof bevind dan “to the extent that these rules restrict the rights of domestic employees from freely being on and traversing public roads in the estate, I consider them to be unreasonable and unlawful.” Hierdie bevinding word vir twaalf maande opgeskort om aan die landgoed die geleentheid te gee om hul reëls aan te pas ten einde aan die Grondwet te voldoen. 
‘n Waarskuwing aan alle gemeenskapskemas
Alle Huiseienaarsverenigings en Regspersone van gemeenskapskemas behoort ‘n ondersoek te doen na hul reëls en regulasies om seker te maak dat dit aan die wet voldoen. Indien daar ander landgoedere in die land is wat, hetsy deur onkunde, hetsy deur arrogansie, nog steeds hierdie skryende, inbreukmakende bepalings in hul reëls het, is dit nou tyd om dit onverwyld aan te spreek. Dit is die duidelike waarskuwing wat die hof in soveel woorde rig.

Author: DotNews

Submitted 01 Feb 18 / Views 1791