SHOWING ARTICLE 79 OF 169

KAN JY NOG 'N HUIS MET GEBREKE VERKOOP? DIE VOETSTOOTSKLOUSULE

Category LawDotNews

KAN JY NOG 'N HUIS MET GEBREKE VERKOOP? DIE VOETSTOOTSKLOUSULE
Dit is belangrik vir kopers en verkopers om die invloed van die Wet op Verbruikersbeskerming op die verkope van alle items en bates – huise, voertuie, enigiets- goed te verstaan. Ook die effek daarvan op die bekende voetstootsklousule. 
Eerstens, wat is die onderskeid tussen patente en latente gebreke? 
Dit is belangrik om hierdie onderskeid te verstaan. 
“Patente gebreke” is gebreke wat met ‘n oorsigtelike ondersoek duidelik te sien is. Dink maar aan ‘n gebreekte deur, beskadigde teëls, gekraakte spieëls, vensters of windskerms om ‘n paar voorbeelde te noem. 
“Latente gebreke” is nie opsigtelik nie. Jou deursnee koper sal nie met ‘n oorsigtelike ondersoek die probleem raaksien of ontdek nie.  Dink maar aan dakke wat met seisoenale reën lek, ondergrondse dreine wat nie meer werk nie, geysers wat lek en so aan. 
Wat behels die voetstootsklousule? 
Ingevolge ons gemene reg gee ‘n verkoper ‘n geïmpliseerde waarborg dat die bate in orde is wanneer hy dit verkoop. Dit kan die verkoper in ‘n moeilike posisie plaas want dit stel die koper in staat om aan te dring op ‘n vermindering in die koopprys of selfs kansellasie van die hele transaksie en teruggawe, indien dit blyk dat daar fout is met die produk.
Daarom word die voetstootsklousule algemeen met ‘n verkoop gebruik. Die verkoper sê daardeur vir die koper: “Jy neem die item in die toestand soos wat dit tans is. Die risiko van enige gebreke is op jou as die koper. As verkoper bied  ek jou geen waarborge oor die item nie.” ‘n Verkoper kan egter nie altyd daaragter skuil nie. ‘n Verkoper wat bewus is van latente gebreke en wat dit met opset verberg om die koper te mislei, sal nie deur die voetstootsklousule beskerm word nie.  
Dan het ons die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming
Die Wet op Verbruikersbeskerming het die posisie van die verbruiker aansienlik verbeter. ‘n Koper is geregtig om goedere te ontvang wat van goeie kwaliteit is, sonder gebreke, duursaam en veilig is en wat redelikerwys geskik is vir die gebruik waarvoor dit bestem is. 
  
Indien enigiets wat jy koop defektief is of nie werk nie of onveilig is –
Is jy geregtig om die item binne ses maande nadat jy die item ontvang het aan die verskaffer terug te gee. Teruggawe geskied op die verskaffer se onkostes en risiko’s. 
As verbruiker is die keuse joune – jy kan aandring op ‘n volle terugbetaling vir die item, of jy kan aandring dat die item vervang word of jy kan aandring dat die item reggemaak moet word. Die verskaffer kan jou as verbruiker nie dwing om enige van die opsies uit te oefen nie. 
Is alle transaksies onderhewig aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming?
Hierdie is ‘n belangrike aspek. Die Wet op Verbruikersbeskerming is slegs van toepassing indien die verkoper daardie item in die normale loop van sake verkoop. Dit hou in dat ‘n “private verkoop” tussen twee privaat individue waarskynlik nie onderhewig sal wees aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie. 
As jy dus ‘n voertuig van ‘n motorhandelaar koop, gaan die Wet op Verbruikersbeskerming op die transaksie en op die voertuig van toepassing wees en die voetstootsklousule gaan die handelaar nie help nie. As jy egter dieselfde voertuig van jou buurman (of enige ander privaat individu) koop, gaan die voetstootsklousule wel van toepassing wees en gaan jy nie die beskerming van die Wet op Verbruikersbeskerming geniet nie. 
Wat dan van eiendomstransaksies?
Ontwikkelaars, bouers en beleggers sal sonder twyfel onderhewig wees aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming. Wat van private verkopers? Dit lyk of ‘n transaksie waar ‘n private verkoper sy huis verkoop, nie onderhewig sal wees aan die Wet op Verbruikersbeskerming nie. Ons sal egter nie 100% sekerheid hê totdat ‘n hof finaal hieroor beslis nie of totdat die wetgewing gewysig word om duidelikheid hieroor te gee nie. Wees dus eerder aan die veilige kant. 
Praktiese advies aan Verkopers 
Die beste beskerming lê in ‘n volledige openbaarmaking van enige gebreke. Lig die koper in van enige gebreke in die eiendom. Dit moet volledig aangeteken word en as ‘n aanhangsel deel wees van die koopooreenkoms. ‘n Koper wat volledig ingelig is oor die gebreke in die eiendom en wat die transaksie dan sluit sal nie na die tyd kan kla oor die toestand van die eiendom nie. 
Indien die verkoop van eiendom deel vorm van jou normale handelsaktiwiteite, sal die Wet op Verbruikersbeskerming wel op jou van toepassing wees. Daar is streng vereistes en nagevolge indien die bepalings nie nagekom word nie. 
As jy ‘n gewone privaat verkoper is, moet jy seker maak dat jy deur ‘n voetstootsklousule beskerm word. Jy kan jouself ook verder beskerm en jou eiendom deur ‘n onafhanklike deskundige laat inspekteer. Die huisinspeksiediens se verslag kan dan ook deel vorm van die koopooreenkoms.   
Praktiese advies aan Kopers 
Jy sal nie graag in die hof wil baklei oor die toepaslikheid van die Wet op Verbruikersbeskerming op jou transaksie nie. Ook nie of die voetstootklousule geldig is nie. In ‘n private transaksie sal dit moeilik wees om die verkoper wat deur ‘n voetstootsklousule beskerm word, aan te vat. Jy sal moet kan bewys dat die verkoper jou probeer mislei het deur die bekende gebreke weg te steek. 
Dit is veel beter om ‘n ingeligte koper te wees en voor die tyd die toestand van die eiendom vas te stel. Indien die verkoper jou nie van ‘n volledige verslag voorsien nie, is dit beter om self een aan te vra, al moet jy as die koper daarvoor betaal. As jy kyk na die totale koopprys, is dit die moeite werd om sekerheid oor die toestand van die eiendom te verkry.

Author: LawDotNews

Submitted 01 Mar 18 / Views 3845