SHOWING ARTICLE 105 OF 171

HOE DIE UITSPRAAK OOR HISTORIESE EIENDOMSBELASTING JOU RAAK

Category LawDotNews

HOE DIE UITSPRAAK OOR “HISTORIESE EIENDOMSBELASTING” JOU RAAK
© DotNews, 2005-2017 LawDotNews is ‘n afdeling van DotNews. 
Kopiereg voorbehou: Hierdie nuusbrief of enige gedeelte daarvan, mag slegs met die voorafverkreë skriftelike toestemming van die eienaar gebruik, versprei, gekopieer, nageboots of herdruk word. 
“Dit word beveel dat, by die oordrag van ‘n eiendom, ‘n nuwe eienaar nie verantwoordelik is vir die (munisipale) skulde van die eiendom, wat ontstaan het as ‘n skuld of heffing op die eiendom komende uit die periode voor oordrag nie.” (Bevel van die Grondwetlike Hof.) 
Hoe raak die onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof oor historiese munisipale skulde vir jou op ‘n praktiese vlak?
Waaroor gaan dit? 
Sommige munisipaliteite sou ‘n koper van eiendom aanspreeklik hou om vir die munisipale skulde van ‘n verkoper te betaal. Dit is nou historiese skulde op die eiendom om vir agterstallige munisipale dienste en eiendomsbelasting te betaal. ‘n Koper sou dus begroot vir die betaling van die koopprys, die hereregte wat aan die staat betaalbaar is en die oordragskostes. Dan kom daar onverwags ‘n bykomende aanslag vir die betaling van agterstallige munisipale skulde op die eiendom, wat nooit deur die vorige eienaars vereffen is nie. 
Enige bykomende uitgawes by die koop van eiendom is onwelkom en nie altyd bekostigbaar nie. In een van die gevalle wat hier ondersoek is, was die bykomende bedrag wat die munisipaliteit aangevra het, die aardige bedrag van R6,5 miljoen. As jy nie betaal nie, gebruik die munisipaliteit die opsies tot hul beskikking. Dit sluit in dreigemente dat die munisipaliteit die dienste na jou eiendom gaan afsluit, tot die reël van veilings om mense se huise op geregtelike veilings te verkoop. 
Nuwe Eienaars 1, Munisipaliteite 0
Die Hooggeregshof het in 2016 reeds bevind dat hierdie optrede van ‘n munisipaliteit ongrondwetlik is. Die Grondwetlike Hof bevind hierna dat die wetgewing as sulks nie ongrondwetlik is nie. Die munisipaliteite kan egter nie die wetgewing gebruik om die nuwe eienaar te verplig om vir die skulde van die vorige eienaars in te staan nie.
Hoe raak dit vir jou as ‘n rolspeler in eiendomstransaksies? 
Kopers
Die kopers is nie meer sagte teikens vir die munisipaliteite nie. Die risiko om aanspreeklik gehou te word vir die skulde van die verkoper is daarmee heen. ‘n Koper sal slegs aanspreeklik wees vir die betaling van eiendomsbelasting en -dienste vanaf datum van oordrag van die eiendom in die naam van die koper. Die voorsiene gevolge hiervan is ook dat munisipaliteite se slegte skulde gaan verhoog. Oor die lang termyn gaan die munisipaliteite enige betalingstekorte van die munisipale verbruikers wat wel betaal, verhaal. 
Verkopers 
Dit maak net sin om jou munisipale rekeninge op ‘n maandelikse basis ten volle te betaal. Onthou, ‘n verkoper kan nie oordrag van eiendom gee indien die munisipaliteit nie ’n sertifikaat kan uitreik om te bevestig dat alle munisipale belastings vir die voorafgaande 24 maande ten volle op datum betaal is nie. Dit word nou onomwonde gestel dat hierdie skulde tereg nie van die kopers verhaal kan word nie. Dit beteken dat munisipaliteite meer pro-aktief behoort te wees met die vroegtydige verhaling van skulde. Indien munisipale skulde ouer is as drie jaar, moet mens ook onderskei tussen eiendomsbelasting wat eers na dertig jaar verjaar en ander eise van die munisipaliteit wat na drie jaar verjaar. 
Agente 
Die uitspraak word as positief vir die eiendomsmark beskou. Dit behoort kopers ook meer gerustheid te gee om ‘n aanbod te maak, sonder die moontlikheid dat daar nog bykomende uitgawes in die vorm van geskiedkundige eiendomsbelasting na vore gaan kom. 
Munisipaliteite  
Die hof beskryf die situasie as volg. Historiese skulde bestaan slegs omdat munisipaliteite dit nog nie ingevorder het nie. Elke munisipaliteit is verplig om die volgende te doen: 
Om alle gelde wat verskuldig is in te vorder. 
Om ‘n kredietbeheer en skuldinvorderingsbeleid te implementeer. 
Om alle munisipale rekeninge deurlopend op ‘n gereelde basis uit te stuur; om ‘n kultuur van betaling te vestig; om in gepaste gevalle die toevoer van elektrisiteit en water af te sluit; om die nodige stappe te neem om betaling van die verskuldigde bedrae te vorder. 
In hul strewe om dienslewering te verbeter, moet munisipaliteite seker maak dat hul stappe neem om die verskuldigde bedrae te vorder. 
Die hof wys daarop dat die munisipaliteite oor ‘n verskeidenheid van regsmiddele beskik om agterstallige munisipale bedrae in te vorder. Dit is beter om dit vanuit die staanspoor te gebruik en die gelde in te vorder, as om te wag vir ‘n eiendomstransaksie om agterstallige munisipale gelde in te vorder.

Author: DotNews

Submitted 03 Oct 17 / Views 2330