SHOWING ARTICLE 27 OF 37

WAT GEBEUR AS EK SONDER N GELDIGE TESTAMENT STERF?

Category FAQ's

WAT GEBEUR AS EK SONDER ‘N GELDIGE TESTAMENT STERF?

Prokureurs lê dikwels klem op die optrek en gereelde hersiening van ‘n testament om die bemaking van jou besittings na jou dood te vergemaklik. Daar is egter steeds baie mense wat nie hierop ag slaan nie. Die probleem is egter dat, indien ‘n persoon te sterwe kom sonder om ‘n geldige testament na te laat, m.a.w. intestaat, sal sy/haar boedel in terme van die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging Wet 81 van 1987, namens hom/haar toegeken en verdeel word.

Hieronder is ‘n basiese voorbeeld van watter uitwerking ‘n intestate sterfte op die verdeling van ‘n boedel sal hê. Indien die samestelling van die belanghebbende partye van die oorledene egter meer gekompliseerd raak, sal die verdeling van die boedel in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging inderdaad ook meer ingewikkeld wees.

Kom ons veronderstel persoon A kom te sterwe met ‘n boedelwaarde van R1.8 miljoen en hy word oorleef deur ‘n vrou (B) en 2 kinders. Een van die kinders is meerderjarig en die ander minderjarig.

Scenario 1:

A en B is buite gemeenskap van goedere getroud.

B erf R125 000 of ‘n kindsdeel, wat ookal die grootste.

‘n Kindsdeel word bereken deur die totale waarde van die boedel deur die gade en aantal kinders te verdeel, m.a.w. R1.8 miljoen/3 = R600 000.

Die gade en kinders erf dus R600 000 elk.

Die minderjarige kind se erfenis sal aan die Meester se Voogdyfonds oorbetaal moet word, aangesien daar nie ‘n testament is wat bepaal dat ‘n minderjarige erfgenaam se erfenis bv. in ‘n Testamentêre Trust geplaas moet word om namens die minderjarige geadministreer te word totdat hy/sy meerderjarige ouderdom of ‘n ander gespesifiseerde ouderdom bereik het nie.

Scenario 2:

A en B is binne gemeenskap van goedere getroud.

B erf 50% van die boedel weens die huwelik binne gemeenskap van goedere.

B erf dan ook R125 000 of ‘n kindsdeel, wat ookal die grootste, ten opsigte van die ander helfte van die boedel.

‘n Kindsdeel word bereken deur die helfte van die totale waarde van die boedel deur die gade en aantal kinders te verdeel, m.a.w. R900 000/3 = R300 000.

Die gade erf dus R1.2 miljoen en die kinders R300 000 elk. 

Die minderjarige kind se erfenis sal weereens aan die Meester se Voogdyfonds oorbetaal moet word, aangesien daar nie ‘n testament is wat bepaal dat ‘n minderjarige erfgenaam se erfenis bv. in ‘n Testamentêre Trust geplaas moet word om namens die minderjarige geadministreer te word totdat hy/sy meerderjarige ouderdom of ‘n ander gespesifiseerde ouderdom bereik het nie. Dit is dus baie duidelik dat Intestate vererwing ‘n onpraktiese verdeling, en in baie gevalle selfs ‘n moeilik uitvoerbare verdeling tot gevolg kan hê. 

Die feit dat die minderjarige erfgenaam se erfenis aan die Meester se Voogdyfonds betaalbaar is, kan die gade in ‘n posisie plaas waar sy planne moet beraam om die bedrag wat ten behoewe van die minderjarige erfgenaam aan die Meester se Voogdyfonds betaalbaar is, te finansier of dat ‘n Verband ten gunste van die Meester se Voogdyfonds teen ‘n onroerende eiendom geregistreer moet word. 

In die geval van ‘n sterfte sonder ‘n geldige testament is daar natuurlik ook nie enige persoon of instansie benoem om die gade by te staan met die administrasie van die boedel nie. Laasgenoemde behoort normaalweg nie ‘n struikelblok te wees nie, maar die gade behoort deeglik te besin oor die persoon of instansie wat haar met die administrasie van die boedel sal bystaan. Sy behoort ook die Eksekuteursvergoeding met die betrokke persoon en instansie te onderhandel voordat die administrasie van die boedel ‘n aanvang neem. 

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)

Author: Welgedacht Properties

Submitted 02 Mar 17 / Views 3709