SHOWING ARTICLE 125 OF 169

SAL JOU HUWELIKSVOORWAARDEKONTRAK TRUSTBATES TEEN EGSKEIDING BESKERM?

Category FAQ's

SAL JOU HUWELIKSVOORWAARDEKONTRAK TRUSTBATES TEEN EGSKEIDING BESKERM?
    

    

‘n Onlangse uitspraak in die Appèlhof illustreer weereens hoe belangrik dit vir die voorgenome huwelikspartye is om ten minste ‘n maand of twee voor die troue, met hul prokureur of onderskeie prokureurs te konsulteer ten einde hul  huweliksvoorwaardekontrak te verstaan en gepas te struktureer. Jou HVK moet noukeurig opgestel word en dit moet ook volledige besonderhede bevat om alle toekomstige scenarios aan te spreek.  

Trustbates en die Multi-miljoen rand geveg  
•    ‘n Paartjie wat voorheen drie keer getroud was en geskei het, staar weereens ‘n egskeiding in die gesig. 
•    Tydens die mees onlangse egskeiding, was hulle buite gemeenskap van goedere met mekaar getroud, met die insluiting van die aanwasbedeling. Elkeen was dus in beginsel geregtig op die helfte van die groei in hul boedels vanaf die aanvang van die huwelik, met die uitsluiting van sekere bates wat spesifiek in hul huweliksvoorwaardekontrak uitgesluit is.
•    Die man het voorheen, op aanbeveling van sy rekenmeester, ‘n nuwe regsentiteit vir elkeen van sy tyddeel besigheidsondernemings geskep. So verseker hy dat as een besigheid misluk, die ander nie noodwendig daardeur geraak sou word nie.
•    Die partye se huweliksvoorwaardekontrak het spesifiek bepaal welke van die man se bates (insluitende sy belange in besigheidsentiteite soos trusts, BK’s en maatskappye) van die aanwas uitgesluit sou wees.
•    Ten tyde van egskeiding het die vrou die Hoë Hof gevra om te verklaar dat die bates van drie van die trusts as persoonlike bates van haar man geag moes word vir doeleindes van die berekening van die aanwas. Haar aansoek was op twee gronde gebaseer -
o    Op die feite en op ‘n sekere interpretasie van die huweliksvoorwaardekontrak was hierdie trusts en trustbates nie uitgesluit vir doeleindes van die berekening van aanwas nie, alternatiewelik 
o    Dat die trusts eintlik slegs die man se alter ego was en dat die bates van hierdie skyntrusts gevolglik deel moes vorm van haar man se bates.
Die gevolg, die reg, en die lesse wat hieruit geleer word
Die Appèlhof bevind dat die trusts se bates nie in ag geneem moet word by die berekening van die groei in die man se boedel nie - 
1.    Die uitsluitingsklousule het voorsien dat sekere bates uitgesluit word van die aanwas, tesame met enige ander bate wat verkry is op grond van die besit of voormalige besit van so ‘n uitgesluite bate. Op grond van die besondere feite van die saak, was twee van die trusts egter nie deur hierdie uitsluitingsklousule gedek nie. Die man het aangevoer dat die klousule wyd geïnterpreteer moes word om enige bate uit te sluit wat as gevolg van sy aktiwiteite in die tyddeel bedryf verkry is. Die Hof verwerp hierdie argument en bevind dat die uitsluiting spesifieke bates dek, asook enige opbrengste daarvan asook enige bates wat die uitgesluite bates vervang of verkry is van die opbrengs daarvan. 

Les 1: As die partye ‘n wye uitsluiting van ‘n bepaalde klas bate uit die aanwas wil hê, moet hulle dit duidelik in hul huweliksvoorwaardekontrak verwoord.
2.    Die vrou het gepoog om die hof te oortuig dat die trustbates wel deel van die man se boedel moes vorm aangesien die trusts bloot die man se alter ego was.

Sy kon die hof oortuig dat die man die trusts wanbestuur het. Die man het die trusts geadministreer sonder behoorlike inagneming van sy vertrouensverpligtinge as trustee of van die noodsaaklike skeiding tussen die beheer daarvan en genot daarvan. Sodanige gedrag regverdig sy verwydering as trustee of die aanstelling deur die Meester van ‘n onafhanklike gesamentlike trustee.

Wat sy egter nie kon bewys nie, was dat daar ‘n misbruik van die trustvorm was of dat die man in ‘n oneerlike of onetiese manier die trustvorm gebruik het om aanspreeklikheid teenoor haar te ontduik of enige verpligtinge teenoor haar te vermy.

Die hof bevind dat dit eerstens ‘n geregverdigde sakebesluit vir die man was om gebruik te maak van afsonderlike trusts vir elke besigheidsonderneming, gegewe sy algemene besigheidstrategie.

Tweedens was daar geen bewyse dat die man met bedrieglike of oneerlike bedoelings sy persoonlike bates na hierdie trusts oorgedra het en gehandel het asof dit trustbates was nie. Sy kon ook nie bewys dat die man die oordrag van bates na hierdie trusts gesimuleer het om sy bates onder die vaandel van trustbates te verdoesel, terwyl hy in werklikheid eienaarskap daaroor behou het nie. 

Les 2: Indien jy op jou gade se trustbates wil aanspraak maak, is dit nie genoeg om wanbestuur van die trustbates te bewys nie. Jy moet ook bewys dat daar op ‘n bedrieglike of oneerlike wyse opgetree is in ‘n poging om die gevolge van aanwas te vermy.

Author: Welgedacht Properties

Submitted 02 Jun 17 / Views 3134