SHOWING ARTICLE 126 OF 169

HUIS GEBOU: WAT IS ‘N OKKUPASIESERTIFIKAAT EN HOEKOM HET JY DIT NODIG?

Category FAQ's

HUIS GEBOU: WAT IS ‘N OKKUPASIESERTIFIKAAT EN HOEKOM HET JY DIT NODIG?
    

“Cheops' Law: Nothing ever gets built on schedule or within budget” (Robert A. Heinlein)


Cheops, ‘n antieke Egiptiese farao, moes 20 jaar lank wag terwyl sy Groot Piramide van Giza gebou is. Hopelik sal jy nie so lank hoef te wag vir jou nuwe droomhuis om gebou te word nie. Jy sal so gou as moontlik wil intrek.

Voor jy mag intrek, moet jy ‘n Okkupasiesertifikaat van jou plaaslike munisipaliteit verkry. Of jy nou ‘n huurder in die huis gaan plaas en of jy self in die woning gaan bly, as eienaar moet jy die sertifikaat verkry. Dit is nodig wanneer daar van nuuts af gebou word, asook wanneer enige “verandering, omskakeling, uitbreiding, herbouing, heroprigting, onderverdeling, byvoeging of herstel van enige deel van die struktuur van die gebou aangebring word”. 
Waarom moet jy die moeite doen?
1.    Eerstens mag jou bank dit vereis, voordat hulle  ‘n verbandlening aan jou toestaan en ‘n verband oor jou eiendom registreer. Jou versekeringsdekking oor jou eiendom kan ook in gedrang kom. 
2.    Tweedens, mag die munisipaliteit weier om jou water- en elektrisiteitsverbindings aan te sluit.
3.    Derdens is dit ‘n misdryf om die gebou te okkupeer, te gebruik of toe te laat dat dit geokkupeer word of gebruik word, sonder dat die nodige magtiging daarvoor verleen is. 
 ‘n Paar opmerkings hier - 
•    In uitsonderlike gevalle kan ‘n eienaar ‘n tydelike, voorwaardelike toestemming verkry om ‘n gebou te gebruik, voordat die finale okkupasiesertifikaat uitgereik is.
•    Die munisipaliteit kan die sertifikaat altyd terugtrek indien die gebou later vervalle raak of as onveilig beskou word.
•    Indien jy as huurder intrek in ‘n nuwe of opgeknapte gebou, vra vir ‘n afskrif van die sertifikaat om seker te maak dat jou okkupasie wettig is.

Hoe beskerm die sertifikaat jou?

Die munisipaliteit behoort slegs die sertifikaat uit te reik wanneer hul tevrede is dat die gebou ooreenkomstig die goedgekeurde bouplanne ten volle voltooi is, dat alle voorwaardes van die goedkeuring en al die munisipale vereistes nagekom is en dat alle nodige nakomingsertifikate (strukturele voltooiing, elektriese-, loodgieter-, gas en diesulke voorgeskrewe sertifikate) uitgereik is.

Indien die munisipaliteit hul werk behoorlik gedoen het is die resultaat eenvoudig: jy het bevestiging dat jou bouer aan al die regulasies en vereistes voldoen het.  Hierdie bevestiging bied om veiligheids- en finansiële redes belangrike beskerming aan jou en jou gesin en ook aan enige huurders of ander okkupeerders.


Wie moet dit verkry?

In die praktyk is dit jou bouer of projekbestuurder wat die sertifikaat verkry nadat die finale munisipale inspeksies die voldoening bevestig het. Maak egter seker dat dit wel verkry is voor jy okkupasie neem en hou dit vir toekomstige probleme of navrae in veilige bewaring.

Vra vir hulp as jy enige probleme ondervind.

Author: Welgedacht Properties

Submitted 01 Jun 17 / Views 2729