SHOWING ARTICLE 1 OF 37

Jy het reeds 'n Koopkontrak geteken - kan jy nog 'n Beter Aanbod aanvaar?

Category FAQ's

Jy het reeds 'n Koopkontrak geteken - kan jy nog 'n Beter Aanbod aanvaar?

Jy sit jou eiendom in die mark. 'n Aanvaarbare aanbod kom in, maar die aanbod is nie perfek nie. Op die beginsel dat 'n halwe eier beter as 'n leë dop is, besluit jy om die aanbod te aanvaar, al is dit nie heeltemaal ideaal nie.
Een rede waarom die aanbod dalk tekort skiet, is omdat dit onderhewig is aan 'n sogenaamde "opskortende voorwaarde". Algemene voorbeelde hiervan is voorwaardes wat aan die koper tyd verleen om sy/haar huidige eiendom te verkoop, of om 'n verband by 'n finansiële instansie te verkry. In beide gevalle sal jou kooptransaksie deur die mat val as die koper nie binne 'n sekere tydperk suksesvol is nie.  As dit gebeur bevind jy jou na 'n lang en vrugtelose vertraging weer terug by stap een. Hou ook in gedagte dat die vertraging dalk 'n uitgerekte een mag wees, afhangende van wat die verkoopooreenkoms inderdaad bepaal - gewoonlik sal die koper minstens 30 dae gegun word om 'n verband te bekom, en dikwels tot etlike maande om 'n bestaande huis te verkoop. Hierdie is uiters waardevolle bemarkingstyd wat verlore gaan - en jy sal nooit weet of jy dalk in hierdie tyd die perfekte aanbod net-net gemis het nie.
Die "72-uur klousule" en wat dit behels
Dit is waar die "72-uur", "volgehoue bemarking" of "ontbindings" klousule handig te pas kom.
In 'n neutedop, laat dit jou toe om voort te gaan om jou eiendom te bemark totdat daar aan all die opskortende voorwaardes voldoen is. Indien jou verdere bemarking vrugte oplewer en jy 'n onwoorwaardelike aanbod ontvang, kan jy jou bestaande koper 72 uur gee om dit te ewenaar. Die koper word dus die geleentheid gebied om die koop onvoorwaardelik te maak, wat gedoen kan word deur óf formeel afstand te doen van die voorwaarde óf deur geheel daaraan te voldoen.
Indien die koper nie binne die 72-uur periode voldoen aan die vereistes van die klousule nie, staan dit jou vry om die nuwe aanbod te aanvaar. Aan die ander kant, indien die koper wel betyds uitvoering daaraan gee, sal die bestaande kooptransaksie onmiddellik ten volle bindend word en die oordragproses kan dan 'n aanvang neem.
'n Nota aan kopers
Die klousule word gewoonlik tot voordeel van die verkoper ingesluit. As koper sal jy verkies dat dit nie ingesluit word nie. As dit egter bepalend is vir jou aanbod om aanvaar te word of nie, moet dit inbly. Hou in gedagte dat 'n getekende koopooreenkoms vir jou as koper ten minste 'n behoorlike basis gee vir 'n volledige verbandaansoek en/of die hupstoot wat jy benodig om die verkoop van jou bestaande eiendom te finaliseer.
Wees net solank gereed om vinnig te spring indien die verkoper jou wel 72 uur kennis gee - jy wil nie inderhaas op nommer 99 sukkel om alles gedoen te kry nie.
Kopers en verkopers - gaan die bewoording noukeurig na!
Alhoewel 72-uur klousules algemeen in standaard koopooreenkomste voorkom, kan die presiese bewoording aansienklik van een kontrak tot die volgende verskil. Dit mag dus nodig wees om die klousule aan te pas om in jou spesifieke behoeftes te voorsien. Jy sal heel eerste bevestiging wil sien dat daar voldoende fondse beskikbaar is om vir jou eiendom te betaal. 
Hierna is daar die voldoening of afstanddoening van die koper se verbandklousule. Dan benodig jy afdoende bewys van 'n (praktiese uitvoerbare) verkoop van die koper se bestaande eiendom. Saam  met dit benodig jy bevestiging of bewys dat die balans van die vereiste fondse vir die gekoppelde eiendomstransaksie inderdaad ook beskikbaar is. Elke situasie sal anders wees.
Bo en behalwe die ander vereistes, moet jy seker maak dat- 
- Die 72-uur periode spesifiek Saterdae, Sondae en Openbare Vakansiedae (asook godsdienstige vakansiedae indien dit vir jou belangrik is) uitsluit,
- Die partye die 72-uur periode by wedersydse ooreenkoms kan verleng, indien jy sou wou,
- Dit baie duidelik ooreengekom word oor die wyse en tydstip waarop kennis gegee moet word en hoe afstanddoening moet geskied, en
- Jy jouself nie verbind tot enigiets waaroor jy later spyt gaan wees nie. 
Verwyder die klousule indien dit nie op julle transaksie van toepassing gaan wees nie.
Soos altyd, laat jou prokureur deur die dokumente gaan voordat jy enigiets teken.

Author: Mostert & Bosman Attorneys

Submitted 05 Jun 19 / Views 2683