SHOWING ARTICLE 57 OF 169

Eiendom: Is Mondelingse Ooreenkomste Geldig?

Category LawDotNews

Eiendom: Is Mondelingse Ooreenkomste Geldig?

"A verbal contract isn't worth the paper it's written on" (Samuel Goldwyn)


Mondelingse ooreenkomste in Suid-Afrika is oor die algemeen net so bindend en geldig soos geskrewe ooreenkomste. Dit bly altyd beter om jou ooreenkomste op skrif te plaas - 'n mondelingse ooreenkoms is 'n resep vir twyfel en dispute. Dit is ook moeilik om die presiese bepalings daarvan in 'n hof te bewys.

Daar is ook sekere soort kontrakte wat op skrif moet wees, en deur al die partye onderteken moet word, ten einde geldig te wees. 'n Voorbeeld hiervan in Suid-Afrika is 'n kontrak vir die verkoping, ruiling, of skenking van grond, of enige "belang in grond" wat op skrif moet wees om geldig en afdwingbaar te wees.

'n Onlangse saak in die Hooggeregshof wys op die gevare indien jy hierdie vereiste nie nakom nie ... 


Twee eiendomme, geen toegang en geen "reg van weg" 
Die koper van twee eiendomme beplan om twee nuwe huise daarop aan te bring.

Hy kom mondelings met een van die verkopers ooreen op "'n reg van toegang (reg van weg) vir beide van die twee nuwe woonhuise oor die verkoper se eiendom" en "om al die nodige dokumente te verskaf en te onderteken wat nodig is om uitvoering te gee aan die ooreengekome reg van weg oor sy eiendom." Die reg van weg was veronderstel om 'n drie meter wye pad of deurgang oor die aangrensende eiendom daar te stel, waardeur motorvoertuie toegang tot die eiendom sou kon verkry.

Die koopooreenkoms self het egter geen bepalings oor die reëlings rondom 'n reg van weg bevat nie; die ooreenkoms oor 'n reg van weg was dus slegs mondelings aangegaan.

'n Reeks geskille het tussen die partye opgeduik, wat onder andere bewerings van vervalsing, kontrakbreuk en kansellasie van die koopooreenkoms ingesluit het. Die koper het die Hooggeregshof genader vir 'n bevel om die reg van weg serwituut-ooreenkoms "geldig en in volle werking" te verklaar; en om die verkoper te beveel om die dokumentasie vir registrasie van die serwituut te onderteken.

Die Hof het hierdie versoek geweier en het beslis dat "die betrokke reg van weg in hierdie aangeleentheid 'n "vervreemding" van 'n "belang in grond" daargestel het. Met ander woorde, dit was 'n "serwituut" (in eenvoudige terme, 'n reg aan A oor B se eiendom - soos byvoorbeeld 'n reg om daarop te woon of om toegang tot 'n ander eiendom daaroor te verkry). Daarom moes dit op skrif wees om geldig en bindend te wees.

Die gevolgtrekking 

Ons beveel altyd aan dat, wanneer jy eiendom koop of verkoop, jy eers regsadvies moet inwin voordat jy enigiets onderteken. Onthou ook om jou prokureur in te lig oor enige mondelingse ooreenkomste wat jy gesluit het. In hierdie saak moes die mondelingse ooreenkoms rakende die reg van weg in die skriftelike, ondertekende koopooreenkoms opgeneem gewees het. Daarna sou dit teen die titelakte van die eiendom in die Aktekantoor geregistreer moes word ten einde die afdwingbaarheid daarvan "teen die res van die wêreld" (wat dus toekomstige eienaars van die grond insluit) te verseker.

Author: Mostert & Bosman Attorneys

Submitted 02 Sep 19 / Views 3840